fbpx

Jou Troudag Tydlyn

element1

Hierdie artikel is in afrikaans geskryf agv afrikaanse koerant publikasie.
Baie dankie aan Lizmari Marais Photography vir die fotos van Hannes en Monique se kosbare beloftedag.
Die dekor is gedoen deur I do en Takes the Cake het die troukoek gebak.

Vra enige bruid oor hoe hul troudag verloop het en haar onmiddelike terugvoer sal wees dat dit in ’n oogwink verby gevlieg het.  Elke paartjie smag na ’n perfekte en sorgelose troudag waar hul elke minuut, daar en dan, werklik beleef en ten volle geniet.

Een van die belangrikste aspekte van deeglike troubeplanning is die uitwerk van jou tydlyn. Tyd is ’n groot faktor aangesien jul net soveel ure tot jul beskikking het. Beplanning sluit verskillende elemente in: diensverskaffers van grimering of hare, fotografie en spesifieke tye van die sonsondergang, die bedien van verskillende maaltydgange en die tydlyn van toesprake om te versker jy maak die beste van jou seremonie.   Niks kan ‘n onthaal meer verongeluk as n uitgerekte seremonie en toesprake sonder spesifieke tydgleuwe en afwisseling nie.

As jou tydlyn deurmekaar is sal jy gestres en onbeplan, die koffie moet drink soos die kan hom skink.  Moenie vrees nie, ons is hier om die lewe vir jou so ’n klein bietjie makliker te maak met riglyne wat reeds deurgetrap is.

Ons raad is om heel eerste te dink aan jou spesifieke trouseisoen, lig en sonsondergang. Hierdie belangrike aspek bepaal jou keuse van die seremonie se tyd wat dan die fondasie vorm van alle verdere en voorafgaande beplanning en keuses. Party bruide verkies ’n romantiese sonsondergang-fotosessie na die seremonie. Ander (iets wat al hoe meer gewild raak) verkies om hul fotos af te handel voor die seremonie of selfs ’n volle dag vroëer. Afhangend van jou spesifieke keuse, onthou dat ‘n fotograaf en videograaf staat maak op natuurlike lig. Gee hul genoeg tyd om op hul gemak jul liefde vas te vang. Hierdie oomblikke wat vasgevang is met fotos en/of video, is al wat jy agterna het om hierdie dag te koester.

Die tyd wat eenkant gesit moet word vir voorbereiding en aantrek sal afhang van hoeveel mense gestilleer moet word. Jou hare en grimeringspan kan, afhangend van hoeveel mense daar is, ’n tydskatting gee en sê ongeveer hoeveel tyd hul gaan benodig. Meeste bruide verkies om betyds te wees op hul troudag. Sodoende raak die hele program nie agter nie. Laat een verantwoordelike persoon (gewoonlik jou hoofstrooimeisie) toe om jou te help. Maak seker jy het alles wat jy nodig het op een plek, sodat daar nie gesoek of mense rondgestuur word nie. Dit is ‘n goeie idee dat jou bruidsmeisies eerste klaar maak. Sodoende kan hul jou help klaar maak en opgetof en eenders lyk in jou fotos.

Dekor en blomme by die onthaal moet klaar wees teen die tyd wat jou fotograaf die lokaal wil afneem. Maak seker die twee diensverskaffers reël met mekaar. Die lokaal moet ook skoon wees, en staf moenie meer rondloop voor die kamera se fyn oog nie.

Een aspek wat ongelooflik tydrowend en uitputtend kan wees is familiefotos. Vergemaklik hierdie proses deur vooraf ‘n lysie te maak van spesifieke gesinsfotos wat jy wil neem. Vra dan jou seremoniemeester, of iemand met murg in sy pype om vanaf jou lys die familielede betyds bymekaar te roep. Sodoende spaar jy tyd en niemand belangriks gaan vergete bly nie. Tjoef-tjaf kan jy en jou bruidegom weg wees vir jul paartjie fotos, of vir die volgende gebeurtenis op jou tydlyn.

Praat met jou spyseniering verskaffer. Dit is belangrik dat hul jou program vir die onthaal ken en kos betyds en warm bedien word. As jy gedruk is vir tyd, laat jou gaste solank aan die voorgereg smul terwyl die toesprake begin, of open jou dansvloer met die inloopslag. Maak dan ook seker dat die pakket wat jou fotograaf en/of videograaf verskaf genoeg tyd laat vir alle formaliteite om afgehandel te word.

element1

Onthou elke troue is uniek. Al mag jou tydlyn onnodige stres verminder en dinge vergemaklik, gebeur daar altyd die onbeplande. Jou tydlyn is nie in klip gegraveer nie, maar wel net ’n riglyn. Nog nooit in die geskiedenis van troues was daar ooit een wat presies volgens die beplande tydlyn afgespeel het nie. As jou beplanning gedoen is, ontspan, haal asem en geniet jou bruidsfees! Mag jou dag se minute stadig en rustig verby tik, terwyl jy elke kosbare oomblik beleef om later te herleef.

Truandie Louw
Web Designer
& Bloggist

A wife and mother. Promoter of noticing the beauty of the little things in life. Owner of ncweddings.co.za 

NC Weddings | Northern Cape Wedding | green kalahari | south africa
Only the best in comprehensive wedding supplier choices and innovative ideas to plan your Northern Cape dream wedding.
www.ncweddings.co.za

Wedding Expo 2023 Magazine

Wedding Expo 2023 Magazine

Wedding Expo Magazine  Kalahari Mall successfully hosted their first-ever Wedding Expo, which took place on 1 to 5 September 2023 at Kalahari Mall located in Upington, Northern Cape. This event was a true celebration of love and a remarkable gathering of...

read more